M e d i a

Godsdiens word gou irrelevant
NUUS24

Godsdiens is nie vir sussies nie. Jy moet hare op jou tande hê om jou weg na die hemel oop te kap.

Iemand daag my juis so ’n paar dae terug uit: “Jy kan nie bewys God bestaan nie, kan jy? Daarom bestaan hy.” Hoe meer ek probeer uitwys dat sy argumentasie onlogies is en ek nie met hom stry oor die bestaan van God nie, hoe meer kibbel hy voort en kryt my uit as onkersten.

Ongelukkig redeneer hy soos baie ander christene en word godsdiens met elke insident al meer irrelevant.

Die verkiesing van die nuwe pous van die Rooms-Katolieke Kerk die afgelope week het ek dit net weereens bevestig. Agter die antieke mure van die Sistynse-kapel in Vatikaanstad stem 115 kardinale in groot geheimhouding vir die volgende leier van dié reusagtige kerk. Met groot afwagting hou kerkgangers die skoorsteen dop na ’n teken van rook.

Maar terwyl hierdie eeue-oue ritueel “romanties” en “nostalgies” is, gaan die res van die wêreld buite die mure van die Vatikaanstad voort asof niks merkwaardigs gebeur nie.

Wêreldwyd is kerke se lidmate besig om deur die bank te daal. Op plaaslike front het die grootste kerk in die land, die NG Kerk, laasjaar byna 29 000 lidmate verloor.

Ek wil nou nie ’n knuppel in die hoenderhok gooi nie (of wag, ek wil dit eintlik doen!), maar kerke verloor nie lidmate omdat mense nie meer glo nie, maar omdat hulle nie met tyd vernuwing ondergaan nie. Hulle stagneer in hul tonnelvisie.

Die NG Kerk was byvoorbeeld onlangs ook in die nuus nadat die nuusredakteur van Kerkbode, Jean Oosthuizen, geskors is omdat hy die direksie “van onwaarheid beskuldig” het.

Die eintlike rede vir sy se skorsing (as ’n mens tussen die lyne lees) is omdat die tydskrif sy borgskap aan ’n kritiese gesprek oor godsdiens onttrek het en Oosthuizen beweer hy was nie bewus daarvan nie.

Dit is sulke belaglikhede wat godsdiens ’n slegte naam gee en veroorsaak dat dit irrelevant word. Durf jy dit waag om enigiets te bevraagteken (of die Kerk van onwaarhede beskuldig), is dit so goed jy gaan God self teë.

Dis eintlik hartseer dat godsdiens soveel skade berokken word deur fundamentalistiese mense wat aan die stuur van sake is.

Ek wil hier graag ’n onderskeid tref tussen “geloof” en “godsdiens”. Geloof is ’n persoonlike saak tussen ’n individu en ’n god, maar godsdiens is ’n menslike skepping. Dis hierdie menslike skepping waaraan al meer mense hulle nie steur nie.

Daar is baie mense wat hulself as christene beskou en ’n persoonlike verhouding met God het, maar nie vasgevang wil word in die rompslomp van ’n kerk nie. Met die eise wat die geharwar van ons hedendaagse bestaan aan mense stel, dink ek meer mense het ’n behoefte aan ’n god.

Dis net jammer daardie behoefte moet deur stiksiennige kerke bevredig word.

                                                

Kultuur van onbekwaamheid in SA gekweek
NUUS24

Een van die “voordele” daarvan om elke dag met die Gautrein werk toe ry, is om na ander se gesprekke te luister.

Gisteroggend het een gesprek my aandag onmiddellik getrek: 'n Vrou spog oor hoe sy pas bevorder is tot “projekbestuurder”. Sy vertel hoe sy nie eintlik verstaan wat die pos behels nie, maar bly is sy het die werk gekry.

Natuurlik het my mond behoorlik oopgehang, maar ek het vinnig onthou dat dit eintlik ’n baie algemene verskynsel in Suid-Afrika is.

Vroeër vandeesweek is die bekwame DA-burgemeester van die Tlokwe-munisipaliteit uit haar pos verwyder om plek te maak vir ’n ANC-burgemeester, Maphetle Maphetle. Hierdie is die einste burgemeester wat verlede jaar weens ’n mosie van wantroue uit sy amp geskop is.

In watter vooruitstrewende land word ’n bekwame amptenaar uit haar pos verwyder om plek te maak vir iemand onder wie se leiding bewerings van finansiële onreëlmatighede hoogty gevier het?

Ons minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se nimmereindigende handboek-skandaal in Limpopo haal weekliks koerantvoorblaaie. Verlede jaar se nasionale assesseringsresultate (oftewel ANA) is deur kritici as “skokkend” beskryf nadat graad 9-leerlinge ’n gemiddeld van slegs 13% in Wiskunde behaal het – een van die laagste syfers ter wêreld.

Voorbeelde van onbekwame amptenare in hoë poste is legio. Dink maar net aan die voormalige hoofde van die SABC, SAA en die SAPD. Dan praat ons nie eens van die president se huis in Nkandla wat belastingbetalers miljoene rande kos nie. Die koor van kritiek het hier ook op dowe ore geval.

As amptenare in hoë poste in die meeste ander onwikkelde of selfs ontwikkelende land met gesonde demokratiese beginsels só swak presteer, van korrupsie beskuldig word of bloot nie hulle werk behoorlik doen nie, word hulle summier uit hul pos geskop. Pres. Obama van die VSA sou byvoorbeeld nooit ’n Nkandla-skandaal oorleef het nie.

Hier in Suid-Afrika doen ons egter dinge anders. In dié land van melk en heuning vir die uitverkorenes, beloon ons eerder sulke gedrag met ’n kloppie op die skouer. As jy aan die regte politieke party behoort, die regte velkleur het, of vriende of familie in topposte het, lê die goue paadjie van sukses oop voor jou.

Opposisiepartye en burgeregteorganisasies kan maar onreëlmatighede aan die groot klok probeer hang; dit word bloot geïgnoreer. Dit is asof Suid-Afrikaners so gewoond geraak het aan onbekwaamheid dat ons dit byna as die norm aanvaar. Vir te lank blaai die meeste landsburgers verby sulke berigte. Ons aanvaar dit gedweë.

Die probleem hiermee is dat dit ’n kultuur van onderprestasie en middelmatigheid skep. Hoe minder mense hoef te gee, hoe minder word gegee. In hierdie negatiewe siklus leer ons kinders dis nie nodig om hard te werk om ’n goeie opvoeding te kry nie. Jy sal sukses behaal solank as wat jy die regte (politieke) deuntjie sing.

Met rolmodelle soos Angie Motshekga en Maphetle Maphetle, hoe dan nou anders? As hulle kan wegkom met onbekwaamheid, hoekom nie Jan Alleman ook nie?

                                                

Draai geldkraan vir Bafana toe
NUUS24

Jy moet die moed hê om die goed te verander wat binne jou vermoë is om te verander, lui die bekende aanhaling.

Ek het nog altyd gedink ons land het hierdie begrip nie lekker onder die knie nie en na afloop van die Afrikabeker-sokkerreeks, is ek doodseker ons verstaan dit nie behoorlik nie.

Ons nasionale sokkerspan, Bafana Bafana, het nog nooit die medaljes vir uitmuntende prestasie ingeryg nie, maar daar was ’n tyd toe hulle goed presteer het. In 1996 het hulle die Afrikabeker-reeks gewen en was hulle 16de op Fifa se wêreldranglys.

Maar dit is amper 17 jaar later en steeds lewer hulle flou vertonings. My probleem is nie eintlik met hulle prestasie nie, maar met die miljarde rande wat oor die jare op sokker as sport vermors is.

Byna R500 000 is in die Afrikabeker belê en steeds het ons ’n louwarm vertoning gelewer. In watter ontwikkelende land kan ’n sport vir amper twee dekades swak presteer en steeds word daar miljoene rande in die sport gepomp?

Die 2010 Wêreldbeker is met groot fanfare hier in ons agterplaas gehou en miljoene rande se skuld is aangegaan om stadions te bou, ’n luisterryke openingseremonie te hou en toeriste van oor die wêreld heen te verwelkom.

Ons stel selfs in 2007 die Brasiliaanse afrigter Carlos Alberto Parreira aan en betaal hom na bewering R1,8 miljoen per jaar, maar steeds verloor ons die toernooi ver. Die huidige afrigter se salaris is R400 000 per maand – dis meer as die meeste Suid-Afrikaners se jaarlikse salaris!

Dit alles word gedoen omdat ons ’n sogenaamde “sokkernasie” is. Ja, ’n groot deel van ons bevolking stel belang in sokker en baie kinders en jongmense droom daarvan om eendag vir Bafana Bafana op die veld te draf, maar is dit genoeg rede om soveel geld te mors?

Dis ’n basiese beginsel in die sakewêreld dat as jy nie opbrengs op jou belegging kry nie, jy dit laat vaar of jou geld elders belê. Hoekom nie dieselfde met sport nie? Daar is soveel ander verdienstelike sporte in Suid-Afrika wat sal floreer met die nodige finansiële ondersteuning.

Ons nasionale swemspan lewer wêreldkampioene op soos Chad Le Clos en Cameron van der Burgh, maar die sport moes al telkens veg om borgskappe te behou.

Suid-Afrika se roeispan, wat laas jaar by die Olimpiese Spele ’n medalje gewen het, moet tevrede wees met die krummels wat van die tafel afval.

Selfs vir die Internasionale Wiskunde-olimpiade, wat (hopelik) in Suid-Afrika gehou gaan word, kan die regering nie nodige R6 miljoen gee nie, en wiskunde beteken baie meer vir jongmense se toekoms as wat sokker ooit sal kan doen.

’n Mens wonder net hoeveel van dié en baie ander kleiner, maar belowende sportsoorte, befonds kan word met net die helfte van die geld wat op ons “sokkerhelde” spandeer word.

Ek stel nie voor dat ons sokker glad nie meer befonds nie. Dit bly ’n geleentheid om ons nasie te versoen en is ’n belangrike deel van baie Suid-Afrikaners se ontspanning en trots. Dit is dalk net tyd dat Bafana se geldkraantjie toegedraai word sodat ons die geld beter kan belê.

                                                

Dié kaal keiser dreig, manipuleer
NUUS24

Ek kon die afgelope twee weke nie help om te dink aan die kindersprokie oor die keiser wat kaal in die strate geloop het nie. Hy was hoogs in sy skik met sy “deurskynende” uitrusting, en al het sy onderdane geweet hy is kaal, moes hulle stilbly uit vrees dat hulle hul werk gaan verloor.

Dié gedagte is nie sommer ’n hunkering na ’n kinderfantasie nie, maar soos die dramaturg Bartho Smit in 1977 in sy politieke satire Die keiser die sensuur van die NP-regering met dié sprokie vergelyk het, kan ons vandag amper dieselfde met die ANC doen.

FNB se apologie aan die regerende party oor sy You Can Help-advertensieveldtog laat my wonder of die ANC nie “kaal” in die strate van Suid-Afrika loop nie en ons almal te bang is om dit vir hom te sê nie.

Die bank is beskuldig van iets “wat aan hoogverraad grens”, terwyl Gwede Mantashe dit duidelik gemaak het dat die ANC nie langer sake kan doen met ’n instansie wat die party "probeer ondermyn" nie.

Hier was natuurlik nie net ’n paar randjies ter sprake nie. Ongeveer 1,2 miljoen ANC-lede se ledegeld word in ’n FNB-bankrekening gehou. Met daardie som geld ter sprake sal enigiemand ’n wag voor sy mond plaas.

Vandeesweek het dit aan die lig gekom dat die kinders in die advertensie ’n voorgeskrewe teks gevolg het – en dit het die ANC net nóg skietgoed gegee. Maar soos die Engelse uitdrukking lui: so what? Solank FNB nie diskriminerend opgetree het of die grondwet verontagsaam het nie, het hulle net hul mening gelewer. Ek sal my linkeroor daarop wed dat die Uitsaaiklagtekommisie geen fout sal vind as ’n klag ingedien word nie.

Vir te lank word landsburgers, organisasies en maatskappye soos FNB se monde gesnoer. Die media se ink moet met die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting opdroog en struggle-helde soos Mamphela Ramphele wat die ANC kritiseer, word gou na die kantlyn geskuif.

Dis kommerwekkend dat ’n politieke party soveel mag het en ’n houding van stem-saam-met-ons-of-ons-gaan-die-lewe-vir-jou-baie-moeilik-maak vrylik oorheers. Enigiemand wat dit durf waag om die regering te kritiseer, word summier gedreig.

Een van die hoekstene van ’n gesonde demokrasie is die element van konstruktiewe kritiek. As niemand die regering se foute en probleemareas mag uitwys nie, hoe gaan hy dit regstel en verbeter? Hoe gaan ons ooit vorentoe kan beweeg as ons niks mag sê sonder om te wonder of dit ons ons werk of besigheid gaan kos nie?

Ek gaan seker ’n paar mense ontstel as ek sê die situasie lyk al meer na ’n terugkeer na drakoniese sensuurwetgewing wat onder apartheid toegepas is. Ja, miskien nie tot die mate waar mense in die tronk gestop word as hulle kritiek lewer nie, maar om finansiële manipulasie toe te pas, is bloot ’n ander soort tronkstraf.

Dalk moet ons nie net vir onse regering wys hy loop kaal nie, maar hom sommer ook uitlag. Dis immers ’n skande om sonder klere in die strate te loop.

No comments: